Groot bonus: Twee skitterfilms (buite kompetisie) by vanjaar se Silwerskermfees

’n Uitstekende speelfilm, Breathing In, en kortfilm, Stilte, wat as buite kompetisie op die program aangedui word – met ander woorde nie vir enige feestoekennings in aanmerking kom nie – is vanjaar by die Silwerskermfees te sien.

Breathing In

 

Op ’n donker, stormagtige nag gedurende die bitter einde van die Anglo-Boereoorlog, word ’n swaar gewonde Boeregeneraal verpleeg in sy afgebrande stal deur Anna, ’n geheimsinnige kruiedokter. Haar verleidelike, anderwêreldse dogter, Annie, veg ook om oorlewing, maar benodig meer as wat haar moeder se brousels haar kan bied. Adjudant Brand, getroue en dapper soldaat van die gewonde generaal, besef hy word stadig verstrengel in ’n onheilspellende web geweef deur moeder en dogter. Die bloedlose Annie word met die listige hulp van haar ma deur iets afgrysliks aan die lewe gehou. Brand is gewoond aan die gruwels van die slagveld, maar hy kom skielik voor ’n verskriklike keuse en ’n veel donkerder gevaar te staan.

Dié speelfilm is gegrond op die Reza de Wet-toneelstuk Breathing In en is 109 minute lank.

In die rolverdeling is Michele Burgers, Jamie-Lee Money, Sven Ruygrok, Lionel Newton, John B. Swart en Shaun Oelf. Die regisseur en draaiboekskrywer is Jaco Bouwer, en die kinematograaf is Jorrie van der Walt. Die klankbaan is deur Pierre-Henri Wicomb.

Breathing In is by verskeie internasionale filmfeeste vertoon en het gloeiende resensies gekry.

“Stylish chamber horror… a bewildering film of enigmatic beauty and shadowy apprehension.” – Nadine Whitney, Alliance of Women Film Journalists

“A sombre, evocative supernatural chamber piece [with] chilling performances.” – Chad Collins, Dread Central

“Moody, brooding, [and] wonderful to look at.” –  Joseph Perry, Gruesome Magazine

“Stands out with its trancelike atmosphere and satisfying conclusion… so chock-full of mystical incantations and witchy meditations that they seem to leak out of the screen and work their magic on the audience.” – Tom Milligan, Nightmarish Conjurings

“An acting showcase that drips with growing dread… one for fans of classic horror films.” – Andrew Mack, Screen Anarchy

“Provocative and harrowing [with] excellent performances [and] a stunning final act.” – Steve Kopian, Unseen Films

Stilte

Die veelbekroonde regisseur en kinematograaf Jozua Malherbe skep ’n ryk, meesleurende visuele droom vol teenstrydige emosies rondom ’n gedig van Hunter Kennedy oor vaderskap en hoe ons met die loop van tyd verander en tog ook dieselfde bly. Hunter, die liriekskrywer van Fokofpolisiekar en Die Heuwels Fantasties, lees self sy gedig voor.

Dié kortfilm is net onder drie minute lank. In die rolverdeling is Juan-Pierre Coetzee, Aiden Coetzee, Jacob van Eeden, Hunter Kennedy. Die klankbaan is deur Kennedy en Fred den Hartog.